Matteus 7:15-20
17“’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. 18 ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie. 19 Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra. (Mat 7:17-19 DB)
Om oor te gesels:
Jesus waarsku teen die vals profete wie se doen en late nie mekaar ooreenstem nie. Hy gebruik die beeld van ’n vrugteboom en sê dat ons aan ons vrug geken sal word.
As volgelinge van Jesus moet ons woorde, dade en motiewe getuig van wat ons glo. Ons kan nie een ding sê en dan iets anders doen nie. Mense hou ons dop. Ons mag dalk vandag die enigste Bybel wees wat iemand “lees” in die manier wat ons hulle hanteer.
Ons moet in alles die waarheid nastreef en nie meegesleur word deur valshede en onwaarhede nie. Laat ons God vandag verheerlik in alles wat ons doen.
Laat die vrug van die Gees in Gal. 5:22 ons riglyn wees: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Gebed
Here, help my om vandag vrug te dra en dat wat ek sê en doen U sal verheerlik. Amen.