Jesaja 40:27-31
27Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? 28Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. 30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, 31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
VRAE:
- Een van die elemente wat ons geloof van ander skei, is dat ons Vader vir ons spasie laat om mens te wees en selfs teen Hom te woed. Ek kyk na voorbeelde soos Jakob en Dawid. Hulle kon met die Here stoei en bely wat in hulle harte werklik aangaan. Hulle het nie nodig gehad om dit weg te steek, bang te wees dat God se skouers nie groot genoeg is om dit te hanteer of vrees dat God hulle gaan straf vir die menslike emosies wat hulle beleef nie.
- Wanneer laas was jy eerlik met die Here oor wat jy voel en wat in jou binneste aan die gang is? Wanneer laas was jy eerlik met jouself oor die belewenisse wat jy het? Soms is dit makliker om die gevoelens te projekteer. Jy sien dit so maklik in ander raak en kan hulle daarvan beskuldig, maar is blind vir dit wat self in jou woed. Sit vir ‘n oomblik en wees eerlik oor dit wat in jou hart en in jou gedagtes aan die gang is. Deel jou hart met die Here.
- Voel jy tans asof jy alleen is? Voel jy asof God by jou verbygegaan het? Voel jy asof dinge net te veel is? Voel dit asof die Here nie omgee nie? Voel jy geïsoleer? Voel jy erg benoud? Deel jou hart met die Here. Weet ook dat Hy by jou is, dit hoor en die spasie vir jou kan hou. Weet dat God jou nie alleen laat nie, selfs al voel jy al hierdie dinge.
GEBED:
Here, ek is nie altyd bewus van dit wat in my hart of in my kop aangaan nie. Here, soms voel dit vir my asof dit almal om my is, wat die probleem is, maar ek sien nie die balk in my eie oog nie. Here, wys asb. vandag vir my wat in my woed. Here, wys my asb. hoe ek steeds op U kan vertrou, steeds naby U kan wees, steeds kan weet dat U my kan lief hê en aanvaar soos ek is. Here, help my ook asb. met al hierdie gevoelens. Here, wees asb. die antwoord op alles wat ek voel.
Amen