Spreuke 31:20
Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
Om oor te gesels of te dink:
- Die hele boek van Spreuke handel oor die beskrywing van wysheid. Wysheid is ‘n seldsame verskyning en ‘n belangrike eienskap vir iemand wat die Here dien. Wanneer die skrywer die boek afsluit in Hoofstuk 31 beskryf hy hoe wysheid prakties lyk in iemand se lewe. Hier gebruik hy die vrou om so ‘n persoon met wysheid te beskryf. Ons gaan daagliks stilstaan by verskeie elemente van hierdie persoon met wysheid.
- ‘n Persoon met wysheid, is iemand wat ‘n oop hart en hand het teenoor die behoeftiges. Hulle is vrygewig teenoor ander. Hulle oë is oop vir die behoeftes van ander en vind maniere om dit te voorsien. Hulle gee nie hulle afskeep, tweede beste, oorskiet vir die mense wat swaarkry nie. Hulle seën ander met klere en besittings waarvoor hulle self nie skaam sal wees om te hou en gebruik nie. Hulle weet dat God so ‘n hart waardeer. En hulle weet dat die behoeftiges met so ‘n hart ook die kans kry om met waardigheid te kan leef.
- Hoe lyk jou hart wanneer dit kom by vrygewigheid? Leef jy met wysheid? Is jou hart en hand oop? Getuig jou lewe daarvan? Gee jy van jou beste? Of gee jy wat niemand anders sou wou hê nie? Is jou oë oop vir die behoeftes van ander? Is jou hande ywerig om te voorsien wat die behoefte is?
- Waar is die behoefte om jou? Wat is die behoefte om jou? Wanneer hulle vra, wat is jou hart se eerste reaksie? Wie in jou lewe ken jy met ‘n vrygewige hart en hand? Hoe is hulle ingesteldheid? Gee hulle van hulle beste? Wat sou gebeur as die wêreld van hulle beste vir ander begin gee?
Gebed:
Here, dankie dat U vir ons die geleentheid skep om te kan vra vir wysheid. Here, ek vra dat U my sal vul met wysheid. Here, dankie vir elke voorbeeld van wysheid in my lewe.
Dankie vir elkeen wat met ‘n vrygewige hart en hand gee. Dankie vir elkeen wat van hulle beste vir ander gee, hulle beste tyd, hulle beste besitting, hulle beste gawes, hulle beste inkomste. Here, help my om my hart te verander teenoor die wat behoefte het, en teenoor my oorvloed.
Amen.