Donderdag 2 Februarie 2023

Matteus 25:34-35
34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,… 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee;

Om oor te gesels of te dink:

  • Hoe lyk dit om “kaal” te wees? Hoe voel dit om broos, uitgeworpe en oorgelewer aan ander te voel? Was daar al ooit ‘n geval waar jy so “kaal” was vir ‘n geruime tyd? Wat gebeur binne jou gedagtes? Wat het jy nodig om te voel asof jy niks het om voor skaam te wees nie? Wat het jy nodig om te voel asof jy niks het om weg te steek nie? Wat het jy nodig om te voel asof jy waarde het in jouself en vir ander? Deel sommer jou gedagtes met die Here.
  • Mense in hierdie wêreld, voel gereeld kaal, ontbloot en uitgelewer aan ander. Dit is verskriklik erg om te voel asof jy broos is, uitgelewer is en al jou foute/vrese sigbaar is vir die wêreld om te sien. Ons almal het ‘n behoefte om met waardigheid en liefde geklee te wees. Hoe kan ons ander help om te voel dat hulle met waardigheid en liefde geklee is, as hulle in ons teenwoordigheid is? Hoe klee ons mense met warmte en verborgenheid?
  • Is daar mense in jou lewe wat jou laat kaal, broos en onveilig laat voel? Waarom? Hoe kan jy begin afstand te neem van hierdie mense? Is daar mense wat jou klee met liefde, warmte, waardigheid en troos? Hoe kan jy meer van hierdie mense in jou lewe inbou?
  • Vir wie is jy ‘n bron van klere? Vir wie gee jy klere wat hulle beskerm, hulle geliefd laat, hulle waarde gee, hulle aantreklik laat voel? Waar kan jy nog geleenthede soek om vir mense so te klee? Deel met die Here jou hart.

Gebed:
Here van my lewe,
Dankie dat U my klee in liefde, waardigheid, troos, verborgenheid, warmte, veiligheid en vrede. Here, dankie dat ek met vrymoedigheid voor U kan staan in hierdie klere. Dankie dat ek nie hoef skaam te wees of minderwaardig hoef te voel nie. Dankie dat U my versorg op hierdie manier. Here, help my om ander ook so te klee. Help my om dit wat ek by U ontvang vir ander uit te deel. Here, U voorsien op elke behoefte wat ek het. Dankie.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika