Jona 3:1-5
“Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.”
Om oor te gesels en te dink
God los nie vir Jona uit nie. God roep Jona weer ’n keer om na Nineve toe te gaan. Jona het hierdie keer gereageer en na Nineve toe gegaan om die boodskap van bekering te gaan vertel. Daar word nie vertel of Jona dit gewillig gedoen het nie.
Die mense van Nineve reageer op hierdie boodskap en begin in God glo. Al was Jona onwillig, het God hom nog steeds gebruik om ’n verskil te maak.
Soos Jona, word ons aanhoudend deur God geroep. Hy los ons nie. En al is ons onwillig, gebruik God ons ook nog steeds om ’n verskil te maak. Ons wil dit nie altyd doen nie, maar God gebruik ons. Die manier waarop ons mense hanteer, maak ’n impak.
Gebed
Here, ek voel nie altyd gereed as U my roep nie. Ek is ook onwillig soos Jona. Gebruik my steeds om ’n verskil te maak. Amen.