Jesaja 60:1-22 (DB)
“Jou lig sal gedurende die dag nie meer van die son af kom nie. Jy sal nie meer afhanklik wees van die maan wat in die nag skyn nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Jou God sal oor jou skyn. Jou dae van hartseer is verby. Jou son sal nooit ondergaan nie. Jou maan sal nooit donker word nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Almal van jou volk sal doen wat reg is. Die land sal vir altyd aan hulle behoort. Hulle sal die plante wees wat Ek self daar geplant het. Ek het hulle met my hande gemaak sodat hulle eer aan My kan gee. Die kleinste groepie sal duisende sterk word. Dié wat die minste was, sal ’n groot volk word. Op die regte tyd sal Ek dit alles laat gebeur.” Jesaja 60:19-22
Die afgelope drie dae het ons gekyk na Jesus as Skepper, timmerman, en tuinier. Vandag kyk ons vooruit na Jesus se terugkoms waar Jesus sy ewige troon as Christus die Koning inneem.
Vandag se verse uit Jesaja, is van my gunstelinge in die hele Bybel. In Jesaja 60 skilder die profeet 'n visie van die ''nuwe Jerusalem'' of soos in Openbaring 21:3b: ''[God] self sal by hulle wees as hulle God," en Jesus sal vir ewig as Koning regeer.
Gee egter aandag aan wat verder in hierdie toneel gebeur. Mense van alle nasies is op pad na die nuwe Jerusalem, en hulle kom nie met leë hande daar aan nie. Die mense uit Tarsus bring hulle skepe. Die mense uit Midian en Efa bring hulle vee. Die mense uit Skeba bring goud en wierook. Jesus nooi hierdie mense uit om hulle heel beste kultuurskeppinge — "die rykdom van die nasies" — na sy ewige koninkryk te bring.
Die Nuwe Testamentiese geleerde, N.T. Wright, sê: "Wat jy in die teenswoordige doen — deur te skilder, preek, sing, naaldwerk te doen … hospitale te bou, putte te grawe, veldtogte vir geregtigheid te voer, gedigte te skryf … jou naaste lief te hê soos jouself — sal in God se toekoms voortduur. Hierdie aktiwiteite is nie net maniere om die teenswoordige lewe 'n bietjie draagliker te maak nie … Hulle is deel van wat ons 'die bou van God se koninkryk' noem."
Met ander woorde, die werk wat ons tussen die nou en dan doen, maak saak.
Die hemelse koninkryk is nie sonder kultuur nie, dit is daarmee gevul. Dit behoort ons almal te inspireer om ons mees uitsonderlike werk tot verheerliking van God en vir die beswil van ander te doen. Dink net: ons handewerk gaan eendag deel van ons ewige tuiste wees.