Lukas 18:13-14
“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig. Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
Om oor te gesels en dink
In hierdie afhanklike houding van die tollenaar hoor ons iets van genade. Hy, die tollenaar, wat God om genade smeek. Hy slaan op sy bors! Hy gee uiting aan iets. Dalk 'n frustrasie, dalk 'n houding van dat hy dit nie werd is nie. Dat hy nie uit sy eie sy saak met God reg kan stel nie. Dit is God en net God wat ons verhouding met Homself kan herstel. Ons doen soms dinge wat skeiding bring tussen ons en God, maar God is altyd besig met ons. Verlaat ons nooit. Hoor altyd ons gebede. Selfs wanneer ons aanjaag. God is 'okay' met ons.
Wat is jou ingesteldheid? Dink jy dat jou werke en houding kan bydra dat God 'okay' is met jou? Of besef jy, nes die tollenaar, dat dit nie uit jou eie kan kom nie. Dit is net genade.
Gebed
Probeer om vandag met 'n oop hand te bid: Here, ek hou my hand vandag oop as simbool dat ek U genade ontvang. U genade is ook vir my. Amen