Filippense 1:6
6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
Om oor te gesels en dink:
Voel jy dalk moedeloos en wonder wat alles gebeur? Wil jy tou opgooi?
Paulus herinner die mense in Filippi, vir wie hy baie lief is, dat hulle aan hierdie belofte moet vashou dat die goeie werk wat God in hulle elkeen begin het, end-uit sal voer. Hy sal hulle nooit in die steek laat nie en hulle kan daarvan seker wees. Hierdie vertroue wat Paulus uitspreek kom vanuit sy dankbaarheid en vreugde in die Here.
God is die Een wat ons laat groei in genade en liefde. Hy stel ons in staat om Sy goeie werk in ons lewens raak te sien. Dit waarmee die Here besig is, sal Hy nie net los nie. Hy sal jou ook nie net los nie. Daarvan kan jy seker wees. Dit kan jou laat moed skep.
Waarmee is die Here tans in jou lewe besig? Wat herinner jou vandag dat die Here jou nie sal los nie? Eien die belofte vir jouself toe dat die Here end-uit saam met jou sal wees.
Gebed
Here, my God, dankie vir hierdie nuwe dag. Dankie vir hierdie belofte dat U die goeie werk wat U in my begin het, end-uit sal voer. Ek vertrou U met my lewe. Mag ek vandag dit weer opnuut ervaar. Amen.