Donderdag 6 Januarie

Lukas 4:14-22
14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: 18“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19om die genadejaar van die Here aan te kondig.” 20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” 22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”.

Om oor te gesels of te dink:

  • Die reder waarom Jesus so vinnig so populêr geword het is omdat hy nie net lippetaal gegee het vir die mense nie. Hy was gevul met die Gees. Hy het daad by woord gesit en die Here het Sy werk geseën. Hoe sou jy reageer as ‘n leier eg is, doen wat hy sê en sy werk die seën van die Here dra? Sou jy soos die mense van de omgewing reageer? Of soos die mense van Nasaret wat Jesus nie wil respekteer nie? Waarom? Deel jou hart met die Here.
  • Indien jy nie sulke leiers ken nie, wees een. Bring die goeie nuus van Jesus vir die mense van jou omgewing. Leef uit ‘n diep verhouding met die Here. Doen dit wat jy sê jy glo. En die Here sal jou werk seën. Wees anders as die leë voorbeelde waarmee jy daagliks gekonfronteer word. Waarom sou jy nie so ‘n leier kon wees nie? Deel jou bekommernisse met die Here.

Gebed:
Here, ons leef in ‘n wêreld wat meer as ooit die goeie nuus van die evangelie nodig het. Here, help my om die goeie nuus vir ander te bring.
Here, Ons benodig mense wat die boodskap sal bring en daad by woord sal sit. Here, help my om so ‘n voorbeeld te wees. En wanneer ek te kort skiet, help my om te vra vir vergifnis en weer te probeer.
Here, mag U koninkryk in die wêreld meer en meer ‘n realiteit word.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika