Stilstaan oomblikke - Op pad na die kruis
Teksvers:
Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:40-41)
Identifiseer:
Dit lyk of Jesus se dissipels nie besef waardeur Hy gaan nie. Hy vermaan hulle en vra dat hulle nie net by Hom bly nie, maar ook bid. Hulle moet vir Hom en vir hulleself bid om nie in die versoeking te kom nie. Dit herinner aan dieselfde gebed in die ”Onse Vader” wat ook vra dat ons nie in die versoeking kom nie.
Oriënteer:
As Jesus erken dat die gees gewillig is, maar die vlees swak, soveel te meer ons ook. Ons moet waak en bid om getrou te bly aan Jesus. Wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan, moet ons juis bid dat ons nie in versoeking kom deur op ons eie wil en planne te fokus nie.
Bely:
Ek kom bely vandag dat ek nie altyd waak en bid nie. Ek maak nie altyd genoeg erns om my te weerhou van versoeking nie. Ek dink dat dit maar menslik is om te sukkel. Ek kom bely dat ek eerder op U wil fokus.
Bid:
Here, help my om te bly bid in moeilike omstandighede, selfs as ek swak voel. Mag U Gees my dra en naby wees. Amen.