Jeremia 31:21
“Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop.”
Om oor te gesels en te dink
Ons is aan die begin van ’n nuwe jaar en ons het baie voornemens. As gelowiges kan ons ook herbesin om te doen wat die Here van ons vra. Soos Jeremia die volk aanmoedig om padwysers en rigtingborde op sit, so moet ons fokus op dit wat belangrik is. Stephan Joubert herinner ons dat ons eerste voorneme moet wees om die Here met alles in my na te volg.
Paulus herinner ons in Filippense 1:21 dat ons ons oog op Christus moet hou. Die somtotaal van die lewe is Christus en dat my lewe deur Christus oorspoel sal word. Hy moet die Here van my hele lewe wees.
Ons moet Sy pad volg. Johannes 14:6 sê Jesus is die weg, die waarheid en die lewe. Of anders gestel: Hy is nie net die ware bestemming nie, maar Hy is ook saam met ons op die pad.
Soos ons hierdie jaar begin, kan ons Hom vertrou om ons oog op die grootpad te hou.
Gebed
Here, ek wil 2024 op U pad bly. Ek wil U volg in alles wat ek doen. Help my asseblief. Amen.