Lukas 5:5-8
““Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het. Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.””
Om oor te gesels en te dink
Jesus sien Simon Petrus raak waar hy besig is om vis te vang. Hy is nie suksesvol nie en is verbaas as Jesus hom beveel om weer sy nette te gaan ingooi. Omdat hy pas Jesus se lering vanuit sy skuit gehoor het, besluit hy om Jesus te vertrou. Hulle gaan toe weer uit en ervaar ’n wonderwerk.
Simon Petrus besef wat gebeur het en val voor Jesus se voete neer. Hy herken Hom nou as Here. Hy is nou nie meer “Meneer” nie, maar “Here”.
Simon Petrus voel dat hy nie waardig is om voor Jesus te verskyn nie. Jesus roep hom steeds om hom te volg. Hy los alles en begin Jesus volg.
Partymaal is ons ook moedeloos oor ons situasie en dink dat daar nie uitkoms is nie. Tog doen Jesus wonderwerke wat ons nie altyd verwag nie. Ons kan soos Petrus leer om Jesus te vertrou.
Gebed
Here Jesus, leer my U te vertrou, selfs as ek dink dis nie moontlik nie. Ek erken U as my Here. Dankie dat U my raak sien. Amen.