1 Petrus 1:3-5
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Om oor te gesels of dink
Soms voel die lewe hopeloos en asof daar niks is om voor te lewe nie. Nog erger, soms voel dit of dit wat ons tans deurgaan doelloos, sonder hoop of enige vooruitsig van iets beter wat op ons wag. Hierdie teks help ons om te onthou dat daar 'n wonderlike erfenis is wat vir ons wag. 'n Erfenis wat onverganklik is. God se erfenis vir ons. 'n Erfenis wat beter is as ons verwagtinge en een wat nooit van ons weggeneem kan word nie.
Gebed
Here Jesus, dankie vir U lewe, dood en opstanding. Dankie vir 'n stuk erfenis wat onverganklik is en meer as my verwagtinge. Amen.