Matteus 5:14-16
14“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
VRAE:
- Wat is die verskil wat een ding kan maak? Dalk nie so baie as dit een druppel water is en mens baie dors is nie. Tog maak een lig in die donker ‘n groot verskil. Dit is van ver af sigbaar en maak ‘n groot verskil vir die persoon wat bang is vir die donker. Lig bring hoop wanneer alles anders donker is.
- In die gedeelte in Matteus maak Jesus die opmerking oor lig. Mens steek dit nie aan en sit dit onder ‘n emmer nie. Mens gebruik dit om vir almal lig te bring en sigbaar te wees. Een lig is ook genoeg om ander ligte aan te steek. Die lig verloor niks om van sy lig te deel met ander nie.
- Is daar iemand in jou lewe, wie se lig helder skyn? Wie sou jy beskryf as ‘n brandende voorbeeld van lig in hierdie donker wêreld? Waarom skyn hulle lig so helder? Wat kan jy by hulle leer?
- Hoe helder is jou eie lig in hierdie wêreld? Is daar omstandighede wat jou lig verdoof? Wat maak dat jou lig weer helder brand? Deel jou hart met die Here.
- Sê vandag “dankie” vir die persoon wie se lig helder skyn. Deel met hulle die rede waarom jy daarvoor waardering het.
Gebed:
Here, ek wil eer vir u dankie sê U lig wat helder in my lewe skyn. Dankie dat U lig altyd die donkerste hoeke van m hart kan verlig. Here, ek wil U ook eer vir die mense in my lewe wie lig helder skyn in myne. Dankie dat hulle my opbeur en versorg. Here, mag ek ook asb. ‘n lig wees wat helder skyn in hierdie wêreld. Mag ek lig bring waar daar nie hoop of vreugde is nie. Mag ek ‘n draer van lig en hoop vir hierdie wêreld wees.
Amen