Lukas 11:1
Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
Om oor te gesels en dink:
Ons lees hierdie vers maklik mis. Jesus het gereeld gebid. Hy het hom soms afgesonder (Luk 6:12), ander kere was sy dissipels by waar Hy gebid het (Luk 9:18, 11:1). Vandaar dat hulle Jesus vra om hulle te leer om te bid. Ons moet Jesus se voorbeeld volg en ook bid.
Ons almal weet dat ons moet bid, maar bid ons gereeld. Is gebed net vir ’n taak om af te handel en dan gaan ons weer aan? Of leef ons biddend?
Om biddend te leef, beteken om wat ook al in ons dag gebeur of waarmee ons besig is, dit vir God te gee.
Die prentjie vandag is deur Vincent van Gogh geskilder en die titel is: “At eternity’s gate” Wanneer ons bid, het ons toegang by die Vader. Hy hoor ons gebede. As selfs Jesus nodig gehad het om te bid, dan moet ons ook biddend leef.
Gebed is ’n verhouding en nie ’n verpligting. Ons bid omdat ons graag met God wil praat en met Hom ons harte en lewens wil deel.
Raak vandag meer as een keer stil en praat (bid) met die Here.
Gebed
Here, vandag is my gebed om meer te bid. Mag ek Jesus se voorbeeld volg en ’n biddende volgeling van U wees. Amen.