Jeremia 29:11-14
“11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. 14Julle sal My ontmoet, sê die Here”
Om oor te gesels en dink:
So aan die begin van die jaar wens ons mekaar steeds ’n voorspoedige jaar toe. Ons dink dat alles net altyd moet goed gaan. Jer. 29:11 is een van die bekendste verse in die Bybel wat aangehaal word. Tog moet ons verder lees aan die belofte wat die Here vir die volk in moeilike omstandighede gee.
Die Here sê dat ons Hom moet aanroep en bid. Hy sal ons gebede verhoor. Ons moet met ons hele hart na Sy wil vra en die Here sal ons ontmoet. ’n Besondere belofte! ’n Ontmoeting met die lewende Here.
Ons neem dit as vanselfsprekend aan, maar Jeremia roep ons op om bewustelik die Here aan te roep, waar ons ook al is en wat ons ook al doen. Raak vandag stil en praat met die Here. Weet dat Hy jou ontmoet!
Met hierdie belofte, gee die Here vir ons ’n toekoms, ’n verwagting.
Gebed
Here God, ek kom roep U aan en bid tot U. Ek wil graag U wil ken. Dankie dat U my ontmoet waar ek is. Ek kom gee vandag en hierdie jaar vir U. Mag ek aan hierdie belofte vashou! Amen.