Maandag 17 Oktober 2022

Romeine 12:1
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Om oor te gesels en dink
Paulus skryf aan die gemeente in Rome om anders te leef as die wêreld waarin hulle hulle bevind. In daardie tyd was offers baie algemeen om al die verskillende gode gelukkig te hou. Paulus sê omdat God die inisiatief uit liefde en ontferming neem, hoef ons nie offers te bring nie, maar moet ons onsself as lewende en heilige offers vir Hom gee. Dit is om ’n lewe van opoffering te leef teenoor God en ander mense, in plaas daarvan om offers te bring wat geen waarde het.
Wanneer ons ’n lewe van opoffering leef, is ons met die belangrikste van ons geloof besig. God se liefde dring ons om anders te wees teenoor almal wat ons pad kruis. Dit is nie altyd maklik nie, maar wanneer ons so leef, leef ons Jesus se liefde uit.

Gebed
Here, dankie vir U groot liefde en ontferming. Ek kom gee myself vandag as lewendige offer vir U. Mag ek U liefde vir iemand vandag wys. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika