Maandag 18 September 2023

Lukas 12:22-26
Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

Om oor te gesels en te dink
Jesus herinner ons opnuut op Hom te vertrou. Aan die begin van die week kan jy dalk bekommerd voel en wonder wat die week vir jou voorlê? Hier is ’n uitnodiging om jou bekommernis vir die Here te gee. Ons word vinnig ingetrek oor alles wat ons nie het nie en mis dat die Here vir ons sorg. Soos God vir die voëls sorg, sorg Hy ook vir ons. Inteendeel, ons is selfs belangriker as die voëls. Ons kan Hom vertrou dat Hy vir ons altyd sal bly sorg. Dit mag dalk nie wees soos ons dit nou wil hê nie, maar God bly getrou.
Om ons heeltyd te bekommer oor dinge wat ons nie kan verander nie, help ons nie. Dit maak ons net onrustig. Laat ons fokus op dit wat die Here reeds vir ons gee en sorg.

Gebed
Here, dankie dat U sorg! Dankie vir genoeg! Help my om my nie onnodig te bekommer nie. Ek vertrou U vir vandag. Amen.

Nog om na te kyk

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram