Openbaring 1:1
“Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak.”
Om oor te gesels of dink
Ons lees nie graag die boek Openbaring nie. Ons is of bang daarvoor of ons dink ons kan dit nie verstaan nie. Johannes skryf juis die openbaring wat hy van Jesus ontvang het om ons as gelowiges te troos.
Dit is nie net vir daardie tyd geskryf nie, maar ook vir ons, sodat ons sterk sal staan in ons geloof.
Een van die dinge wat Johannes ons leer is om op te kyk. Kyk op na die hemel en sien God raak. Hy is in beheer! Dit mag vir ons voel of dit nie so is nie, maar Johannes deel hierdie openbaring om ons te bemoedig.
Hy steun op ’n klomp indirekte verwysings uit die Ou Testament om dit vir ons uit te wys. Ons gaan hierdie week daarop verder fokus.
Neem ’n oomblik van stilte
Glo jy dat God nog in beheer is?
Voel jy bang of angstig as jy daaroor dink?
Kan jy God vertrou met die toekoms?
Gebed
Here God, ek voel soms so oorweldig. Dinge voel soms buite beheer, maar ek wil by Johannes leer dat U in beheer is. Help my om op U te fokus en U te aanbid. Help my op op te kyk. Amen.