Efesiërs 4:1-16
1 Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
Op dieselfde manier as wat ’n mens volgens sekere mates as “gesond” beskryf word, beskryf die Bybel ‘n gesonde kerk as ‘n kerk met sekere baie belangrike kenmerke en karaktereienskappe. Soms skarrel ons so dat ons nie eers weet dat ons eintlik as individuele gelowiges en ’n geloofsfamilie ongesond is nie.
’n Gesonde kerk is ’n kerk waarin daar eenheid is. Ons is verenig deur die feit dat ons almal in Jesus se beeld gevorm word. Kyk na die deugde en gedrag wat in vers 2-3 genoem word. Dit is deugde wat Jesus perfek beliggaam het, so ons lyk al meer na mekaar hoe meer ons in Jesus se beeld gevorm word.
Om te leef soos die teks beskryf, moet ons dit intensioneel kies, en nie net dit nie, ons moet intensioneel teen ander gedrag kies, om werklik op hierdie manier te leef. As ons meer geduldig wil wees moet ons kies teen ongeduld. As ons die eenheid wat die Gees gesmee het wil bewaar, moet ons teen vyandigheid, afgunstigheid, skinder en jaloesie kies. Dit is ons roeping, en ons lewenswandel moet in ooreenstemming met ons roeping wees. Onthou: ons doen dit nie in ons eie krag nie, ons doen dit deur die krag van die Heilige Gees.
Om oor te dink:
Humility is not thinking less of yourself. It is thinking of yourself less. Tim Keller