Maandag 21 Desember

Lukas 1:46-55

46En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, 47ek juig oor God, my Verlosser, 48omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, 49omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! 50Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. 51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; 52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; 53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. 54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming 55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

Om oor te gesels:

- As jy jou storie saam met die Here sou neerskryf, hoe sou dit lyk? Sou jy dit as ‘n loflied kon beskryf? Waarom of waarom nie?

- Weet jy van verhale of stories waar God goed was vir jou ouers en jou voorouers? Herinner jouself aan God se storie saam met jou familie voor jou.

- Waar het God jou al bygestaan in jou lewe? Herinner jouself aan jou eie reis saam met die Here.

Prakties

Kies saam as ‘n gesin ‘n loflied waarvan julle hou en wat diep betekenis vir julle het. Sit dit op julle fone as julle “ringtone”. Luister ook deur die dag daarna. Kyk of julle al die woorde van die lied kan saamsing.

Gebed:

Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys!

Alles wat U in die hemelruim gemaak het, vertel hoe groot U regtig is.

Uit die blou lug klink simfonieklanke wat aan U lof bring.

Deur swak en klein mensies word u groot krag hier op aarde uitgebasuin, deur ’n baba wat geluidjies maak of ’n pap babatjie in ’n ma se arms.

U groot krag laat almal wat met U probeer baklei gou-gou stil word.

As ek opkyk na alles wat U in die hemelruim gemaak het, al die planete, die maan, melkwegstelsels en miljoene sterre, snak ek na my asem as ek sien hoe piepklein die mens regtig is.

Hoekom gee U vir hom om?

En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie!

Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik.

U het hom so belangrik gemaak dat hy amper soos U is;

U behandel hom soos ’n koning; U gee ’n baie hoë posisie aan hom. U wil hê dat die mens oral moet wys hoe groot U is. Hy is mos u verteenwoordiger. Hy regeer oor die hele aarde.

U laat hom soos ’n groot leier oor u handewerk regeer. Hy moet vir alles sorg wat U gemaak het.

Veral die diere is van hom afhanklik - die vee, wilde diere, voëls en visse.

Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys!

Amen (Psalm 8)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika