Jona 3:10-4:2
10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie. 1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
VRAE:
- Jona het uiteindelik ingestem om God se boodskap van verlossing en genade aan die mense van Nineve oor te dra. Jona is suksesvol. Die hele stad is oortuig dat hulle verkeerd gedoen het en nou hulle sondes aan God moet bely. Hulle draai weg van hulle ou lewe en kies om die Here te dien. Vir enige profeet wat passievol is oor sy werk, sou mens dink Jona moet besonders gelukkig wees. Nie Jona nie. Jona is baie ongelukkig. Ons vind nou uiteindelik uit waarom Jona nie vir Nineve wou gaan verkondig nie. Want hy het God geken en geweet dat God die mense van Nineve sal verlos as hulle opreg berou het oor hulle sondes. Jona gun nie God se vryspraak, barmhartigheid, liefde of genade vir hierdie heidense nasie nie.
- Het jy al ooit daarmee gesukkel dat God barmhartigheid en liefde vir ander gee? Dalk veral mense wie jy nie sou dink waardig is van God se liefde en barmhartigheid of genade nie? Deel jou hart met die Here.
- Hoe wys Jona se vooroordele ons eie vooroordele uit? Was jy al kwaad vir God wanneer Hy iemand vryspreek, seën of geluk laat beleef? Wat maak jy met daardie gevoelens? Steek jy dit weg of deel jy dit soos Jona met die Here?
- Hoe kan jy ‘n hart begin kweek wat feesvier wanneer ander mense God se liefde en barmhartigheid beleef? Wat het jy van God nodig om jou daarmee te help?
Gebed:
Here, my genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol van liefde. Dankie dat U my, ‘n sondaar, ‘n eg menslike mens genade betoon, liefde gee en barmhartig teenoor my optree. Here, help my om meer soos U te wil leef. Here, help my asb. om veral vir mense wat ek nie van hou nie, dit nie wil gun nie, en nie wil verdra nie eerste begin om liefde te bewys en genade te betoon. Here, help my vandag om spesifiek vir hulle guns toe te bid.
Amen