Maandag 29 November

Jesaja 7:10-14
“10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God 'n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo. 12Maar Agas het geantwoord: “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.” 13Toe sê Jesaja: “Luister, geslag van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”
‭‭
Om oor te gesels en dink:
Ons is aan die begin van Advent. Die tyd wat ons wag en nadink oor die koms van Jesus. Jesaja gaan na koning Agas toe en sê dat hy ’n teken van die Here kan vra. Agas was in ’n moeilike situasie en Jesaja wil hom verseker dat die Here by hom is. Agas klink vroom, maar steek eintlik sy ongeloof weg deur te sê dat hy nie die Here wil tart nie. God sien deur sy skanse en Jesaja antwoord dat die Here ’n teken sal gee deur ’n kind wat gebore sal word met die naam, Immanuel, wat beteken “God met ons.” Dit sal almal herinner wanneer hulle hierdie kind se naam noem dat God by hulle is, al het hulle dit nie geglo nie.
In Matteus 1:23 word Jesus Immanuel genoem wat beteken “God met ons.” God het mens geword om by ons te wees.

  • Het jy ’n verwagting van Jesus?
  • Voel jy soos Agas om liewer nie te vra nie?
  • Wat beteken dit dat Jesus “God met ons” is?

Gebed
Jesus, dankie dat U Immanuel is, God met ons. Mag ek in hierdie tyd nadink en besef wat dit beteken dat U vir my mens geword het. Dankie dat U hier is. Mag ek vandag U teenwoordigheid ervaar. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika