Lukas 4
1Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.

VRAE:

  • Tydens Jesus se doop is Hy erken as God se geliefde. Hy is direk na die doop deur die Gees gelei, om deur die vyand in die woestyn versoek te word. Hy is op verskeie maniere versoek.
  • Jesus is versoek terwyl hy baie honger was, om te besluit op wie Hy vertrou om vir hom te voorsien¬¬. Jesus bely dat God die enigste bron is van alles wat hy benodig. Wie is jou jou bron van voorsiening? Vertrou jy op God om te voorsien dit wat jy nodig het? Is jy bereid om daarop te wag? Of kies jy ander goed om jou te verdoof of te vul met alles wat nie werklik vir jou bedoel is nie? Kies jy ‘n besige program, ‘n verslawing, ‘n afleiding om jou aandag weg te neem van die dinge wat werklik jou siel sal versadig? Deel jou hart met die Here.
  • Jesus is versoek om te besluit wat Sy grootste prioriteit is. Jesus het geweet dat God sy grootste prioriteit moet wees en hy het sy lewe daarvolgens ingerig. Hoe lyk jou prioriteite? Kom God voor alles anders in jou lewe? Of is jou verhouding met God die laaste element wat in jou kalender en hart plek kry? Hoe getuig jou kalender, finansies, gawes en mense van jou prioriteite? Deel jou hart met die Here.
  • Jesus is versoek deur te wonder oor wie hom werklik sal beskerm. Jesus het geweet dat God Sy hand oor Hom hou en dat hy biddend God se leiding en wysheid moet soek voor hy enige tree verder gee. So gereeld storm ons in ‘n rigting of situasie, sonder om die Here se leiding te vra. Dan verwag ons dat God ons moet beskerm van die konsekwensies en nagevolge. Waar in jou lewe is jy nie besig om God se leiding eerste te vra nie? Waar word God se beskerming die laaste pleidooi wanneer daar nie meer ander uitweg is nie? Deel jou hart met die Here.

DOEN DING:

  • Praat oor elkeen van die drie temas: Voorsiening, Prioriteite en Beskerming. Deel met mekaar hoe julle as ‘n huishouding God se voorsiening, prioriteite en beskerming prakties in julle lewens sien of op wil fokus.
  • Bring ‘n bakkie met water na die etenstafel. Laat elkeen, een vir een, hulle hand in die water sit. Wanneer hulle die hand in die water sit, laat hulle sê: “Ek behoort aan God. Jesus het my vry gemaak van my sondes. Die Heilige Gees lei my nou elke dag.”

GEBED:
Here, ek is so bewus dat ek soms myself probeer help deur self te probeer voorsien, my eie prioriteite najaag en nie U wil te soek in elke keuse wat ek maak nie. Ek word versoek en ek is skuldig daaraan dat ek vir die versoekings val. Vergewe my asb. Here. Help my om meer na U te smag en te weet dat genoeg is. Here, ek wil nie meer na myself omsien nie, so besig wees dat ek niks in die oomblik beleef nie of U nie ten volle vertrou nie. Help my om nee te sê vir alles wat nie vir my bedoel is nie. Here, sal U die lewende God weer vandag opnuut oor my was. Here, U seën ons.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika