Matteus 1:1-17
Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: (Mat 1:1)
Om oor te gesels en dink
Geslagsregisters is iets wat ons nie baie lees nie. Ons kan die meeste name nie eers uitspreek nie. Tog gebruik Matteus dit aan die begin van sy evangelie om ons iets meer van Jesus te vertel. Hy skryf vir Jode wat gestel was oor hulle herkoms. Daarom gee Matteus vir hulle Jesus se herkoms. Matteus is egter nie skaam oor Jesus se herkoms nie. Anders as bv. Herodes wat sy geslagsregister opsetlik verander het om dit beter te laat lyk.
As jy die geslagsregister deurlees, sien ons dat vier vroue ingesluit word. Dit was ongekend gewees, tog vervul hulle ’n belangrike rol. Hulle was randfigure wat God gebruik het om deel van Jesus se geslagsregister te wees.
Dit wys vir ons dat God enige iemand kan gebruik, selfs al dink niemand ander so nie. Net so, kan God jou ook gebruik en jou deel maak van Sy familie. Soos hy Josef en Maria as gewone mense gebruik het en deel van die geskiedenis gemaak het, gebruik God jou soos jy is en waar jy is.
Gebed
Here, baie dankie dat U moeite met mense maak, selfs al verdien hulle dit nie. Dankie dat U met my moeite maak en dat ek deel van U familie kan wees. Mag ek vandag U liefde ervaar en deel. Amen.