Spreuke 4:25-27
“Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”
Om oor te gesels en te dink
Ons staan aan die begin van ’n Nuwejaar en ons staan voor keuses. Stephan Joubert het ’n rigtingwysers vir 2024 uitgelig wat ons kan help om hierdie jaar God se pad te kan stap.
Gaan deur hierdie lysie en vra die Here om jou te wys op watter jy nou op kan fokus. Soos die tyd aan gaan, kies dan vir jou ’n volgende een. Laat toe dat die Here so vir jou pad wys.
Gebed
Here, ek wil my oë op U pad hou. Ek wil nie die verkeerde koers kies nie. Help my om hierdie jaar dit elke dag te doen. Amen.
Rigsnoere uit die Bybel vir 2024:
- Om die Here na te volg met alles in my.
- Om vrygewig te leef soos wat Jesus my leer, sonder om iets terug te verwag.
- Om ander mense geestelik ryk te maak, al voel ek soms brandarm.
- Om ’n voltydse student te wees van die Here en sy Woord, en om myself gedurig te omring met wyse mense.
- Om te doen wat reg is.
- Om mense met respek te behandel, al doen hulle nie dieselfde terug nie.
- Om eerste askies te sê wanneer ek verkeerd is.
- Om vergeetagtig te wees wat my eie behoeftes betref, en om ’n sagter hart te hê vir almal rondom my.
- Om gedurig op die uitkyk te wees vir al die stil helde van die Here wat nooit enige erkenning soek vir hulle liefdesdiens en goeie dade nie, en om in hulle voetstappe te volg as my mentors.
- Om te bid vir mense wat met integriteit werk en leef te midde van onreg en korrupsie, en om hulle te bemoedig om te volhard.
- Om vrede te maak met die feit dat ek sommige mense sal teleurstel omdat ek nie alles vir almal kan of hoef te wees nie
- Om met dankbaarheid te leef vir elke stukkie brood op die tafel, asook vir elke nuwe dag wat die Here aan my gee om vir Hom te leef.
- Om gefokus te wees op God se eer in alles wat ek dink, sê en doen.
- Om nie een aand te gaan slaap sonder dat ek my doel in die lewe nagejaag het nie.
Stephan Joubert