Maandag 9 Augustus

Maandag, 9 Augustus 2021
*Vreugde in ‘n Tyd van Verlies

Filippense 1:3-5
Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.

Om oor te gesels of te dink:

  • Een van die eerste voorbeelde wat Paulus vir ons gee, van waar hy vreugde vind in ‘n tyd van verlies is om vir ander in te tree in gebed. Tyd saam met die Vader is kosbaar. Tyd waar jy ander se seer en blydskap na die Here bring nog meer so.
  • Wat is tans op jou gebedslys? Deel jou hart met die Here.
  • Wie wil jy vandag op jou gebedslys plaas? Wie druk die Here op jou hart? Deel jou hart met die Here as dit kom by hierdie mense se behoeftes en nood.
  • Begin hierdie week ‘n nuwe gebedslys. En kyk deur die volgende paar weke wie die Here spesifiek op die lys plaas. Bid vir hierdie mense. En onthou om nou en dan terug te gaan en ook te kyk hoe God antwoorde stuur vir die gebede.

Gebed:
God van my lewe,
Ek dank U vandag vir die voorreg om vir ander te kan intree. Ek was al so dikwels die ontvanger van ander se gebede dat ek besef hoe kosbaar dit is.
Eerstens vra ek dat U my skoonwas van enige sonde wat ek nog nie bely het nie, sodat my gebede vir ander nie verhinder word nie. Ek dank U dat ek deur U kosbare naam, broos na U toe kan kom en met selfvertroue kan bid en te weet dat U my gebede sal aanhoor.
Ek bring almal in my gemeenskap, my stad en my geloofsfamilie na U toe. Begin asseblief by diegene wat U reeds volg en staan hulle by om ander ten goede te beïnvloed. Laat hulle die sout en lig wees wat ander na U toe lei. Verdiep hulle liefde vir U en vir mense rondom hulle. Beskerm hulle teen skynheiligheid en versoekings wat U koninkryk skade kan berokken. Rig leiers op wat U getrou sal volg ten koste van alles.
Rig pa’s se harte op hul kinders en families se harte, op U. Help hulle om ‘n voorbeeld van U te wees en maak hulle sterk in hul geloof. Versterk my eie familie en almal vir wie ek lief is, Here. Mag ons liefde vir U ons versterk om ander lief te hê, hulle te vergewe en ‘n verskil in die wêreld te maak.
Ek bid vir onderwysers, studente en vir almal in leiers posisies – plaaslik en regoor die wêreld. Rig hulle denke op U en omring hulle met goddelike raadgewers wat integriteit en regverdigheid voorop stel. Staan hulle by om U hoog te ag en U nie te ignoreer nie. Stuur herlewing, Here!
Ek bid vir die verlorenes, die hartseer, die eensames, die siekes, die bedroefdes en hulle wat gevange is – tussen fisiese en/of psigiese tronkmure. Stuur asseblief U troos, U vrede en U kalmerende teenwoordigheid aan diegene sonder hoop.
Beskerm die weerloses, Here en hou hulle styf naby U hart.
Ek bid dat arbeiders regoor die wêreld U groot Naam sal uitdra.
Here, my hart gaan uit na vervolgde Christene ook. Maak hulle dapper en laat hulle veilig voel in U goddelike beskerming. Ek bid dat U spoedige bekering sal bring onder diegene wat die onskuldiges wat U naam uitdra, vervolg.
Bind die mag van Satan en versterk gelowiges wêreldwyd.
Daar is só baie behoeftes, Jesus, maar U is genoeg vir elke behoefte.
U naam is Almagtig en U krag is groot!
So, dis in U naam wat ek bid en glo.
– Amen. (Rebecca Barlow Jordan)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika