Lukas 4:18-19
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Afr 1953 vertaling)
Om oor te gesels of dink:
Lukas vertel ons dat toe Jesus sy bediening begin het, Hy uit Jesaja 61 in die sinagoge gelees het en Hy gesê het dat die Skrif nou in Hom waar geword het. Jesus se hele bediening was om die “verbryseld van hart” te genees en om God se genadejaar aan te kondig.
Ons as volgelinge van Jesus kan weet dat Jesus by ons is. Ons leef in Sy genadejaar. Hy sal ons nie alleen los nie. Selfs ons wat verbryseld van hart is, sal Hy help. Hy bring vryheid en herstel. Hy verander ons moedeloosheid in hoop.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U gekom het om God se genadejaar aan te kondig en herstel en vryheid te bring. Dankie dat U verbryselde harte genees. Mag ek meer van liefde en genade ervaar. Amen.