Lukas 1:46-49
En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!
Om oor te gesels en dink:
Hierdie lied, die Magnificat, sing Maria wanneer sy die goeie nuus van die engel Gabriël ontvang het. As jy wil, kan jy dink hoe jou loflied aan God so aan die einde van die jaar sal lyk. Oor watter dinge van God sou jy wou sing?
Neem ‘n oomblik van stilte
Maria word met die Heilige Gees vervul en in die proses ook met vreugde en lof vir God. Wanneer ons besef dat God besig is met ons en die wêreld waarin ons onsself bevind, vloei dit oor in vreugde. Ons het almal nie engel Gabriëls wat vir ons verduidelik wat God mee besig is nie, maar ons weet dat God betrokke was en saam met mense gewerk het: van die tuin van Eden, tot Abraham, deur die woestyn en in die land van melk en heuning, in ballingskap en in die tyd van Maria, in die tyd van Paulus en die vroeë kerk, en ook vandag nog. En dáárom kan ons vreugde hê!
Gebed
Here, soms voel ek onsigbaar, soos ‘n pion wat doelloos op ‘n skaakbord rondskuif in ‘n spel wat aan die verloor is. En dan onthou ek Maria. Nee. Ek onthou U, o God en wat U aan en vir Maria gedoen het. Ek word vanmore herinner dat U ons raaksien en saam met ons werk na ‘n einddoel wat U veel helderder as ons kan sien. Vanmore kom loof ons U en ons juig! Want U is steeds die Verlosser!
Amen