Titus 3:4-5
Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.
Om oor te gesels of te dink:
- God se goedheid en die liefde vir die mensdom is vir almal. Een van die hoekstene van Reformasie is Solo Gratia, deur Genade Alleen. Dit beteken dat die pad na God, is vir almal bedoel. Nie omdat die mensdom so goed is nie, maar omdat God so goed is. Dit beteken dat die pad na die hemel veronderstel is om wyd te wees, en die pad na die hel smal, omdat God dit vir almal moontlik maak om in verhouding met hom te stel.
- Dit is so hartseer dat ons as gelowiges vir mense so baie vereistes stel dat hulle nie die genade van die Here kan beleef nie. En as gevolg daarvan is die pad na die hemel smal en die pad na die hel wyd.
- Waar staan jy? Is jy besig om die pad na die Here makliker te maak deur vir ander goedheid en liefde te bewys? Of is jy besig om mense vereistes te gee vir hoe hulle moet leef en glo voordat hulle verhouding met die Here aanvaarbaar is?
- Hoe voel jy oor jou eie verhouding met God? Is jy oop vir God se genade? Aanvaar jy dit net? Of wil jy eers sekere rituele, oortuigings en nuanses gehoorsaam voordat jy waardig voel van God se genade?
Gebed:
Here van my lewe,
Dankie dat U genade vir almal is. Dankie dat dit genoeg is. Here, help my om dit net te ontvang. Here, help my om dit net vir ander te gun.