Jesaja 40:27-31
27Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? 28Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. 30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, 31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
VRAE:
- As gelowiges is dit soms moeilik om te erken dat ons word ook geraak deur die omstandighede om ons. Ons is mos juis veronderstel om nie te val vir die probleme wat die wêreld se mense mee sukkel nie. Jesaja erken dat selfs jongmense afgemat word. Jongmense word gekenmerk vir hulle energie. Die goeie nuus vir elkeen van ons is, dat wanneer ons in verhouding met God is, Hy die een is wat weer herstel bring. Hy gee weer nuwe krag. Hy herstel die hart wat moedeloos word en hopeloos voel. Die Here is die antwoord op elke kwessie wat ons beleef.
- Waarmee sukkel jy tans? Is jy moeg en moedeloos? Is jy seer en sensitief? Is jy hartseer en hopeloos? Deel jou hart met die here. Wees eerlik oor dit wat tans in jou hart leef.
- Wanneer jy weer herstel is, hoe lyk dit? Is dit iemand wat genoeg energie het om elke dag te hanteer? Is dit iemand wat blydskap vind in die alledaagse dingetjies? Is dit iemand wat goeie nuus bring wanneer die wêreld slegte nuus verkondig? Is dit iemand wat vrede uitleef in hulle huishouding, selfs wanneer almal baie spanning beleef? Vra vir die Here vir hierdie genesing. Begin dan ook leef asof die Here reeds hierdie genesing vir jou gebring het.
Gebed:
Here, ek het ‘n diep behoefte vir U genesing. Ek het nuwe energie nodig. Ek het U vrede nodig. Ek het U liefde nodig. Ek het U hoop nodig. Here, help my asb. om dit te begin leef in die vertroue, dat U dit vir my gee. Here, ek weet U kan alles in my verander. Ek glo en vertrou U daarvoor.
Amen