Saterdag 20 November

Matteus 7:7-11
“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
“Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

Om oor te gesels of te dink:
Gister het ons saam gedink oor gawes, geskenke en moontlik ‘n mooi toekoms waarvoor ons nie eers gevra het nie. En kere wat ons dink ons het dit verdien. Hierdie teksgedeelte in Matteus herinner ons dat daar definitief tye in ons lewe is wat ons vir God iets spesifieks vra. En dat God dit gee. Soms selfs nog iets beter gee as wat ons voor gevra het. Dit laat mens wonder of ons onthou om die Here te dank wanneer Hy ‘n gebed só beantwoord het.

Neem ‘n oomblik van stilte.

  • Kan jy aan ‘n keer dink wat jy iets by die Here gesmeek het, dit ontvang het en vergeet het om die Here te dank?
  • Is dit moontlik dat ons soms nadat ons hierdie geskenk of sekuriteit ontvang het, dat ons daarmee te werk gaan sonder om te onthou dat ons daarvoor gevra het? En nog belangriker, dat God dit as geskenk gegee het?

Gebed:
Here, my Here. Ek dink vandag aan ‘n spesifieke geskenk/gawe/mooi toekoms/sekuriteit [noem dit] wat U aan my gegee het. Vandag wil ek dit opnuut weer aan U wy. Dankie dat ek daarmee te werk mag gaan, maar Here gebruik hierdie geskenk in my hande tot eer en verheerliking van U naam.

Nog om na te kyk

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram