Daniël 6
4 Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5 Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6 Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.”
Betroubaar. Geen nalatigheid. Geen onreëlmatigheid.
Die rede waarom Darius 120 landvoogde/ goewerneurs-generaal/ satrape en 3 ministers aangestel het is omdat korrupsie, diefstal en onreëlmatighede aan die orde van die dag was in die koninkryk. Landvoogde was toevertrou met geld van die koning af, en moes dan die geld dienoorenkomstig aanwend vir die ontwikkeling van die land. Die 3 ministers wat Darius aangestel het moes sekermaak die geld word reg aangewend.
Die ministers en die goewerneurs-generaal het ’n probleem daarmee dat Daniël die vreemdeling, die buitestaander, die immigrant, die Jood hierdie hoë pos beklee. Daarom soek hulle vir ’n rede om hom uit die pos te verwyder, maar kry niks nie. Dink vir ’n oomblik daaroor: Betroubaar. Geen nalatigheid. Geen onreëlmatigheid.
Ons is geneig om te dink dat Daniël 6 slegs ’n wonderlike storie is van God se redding van Daniël uit die kake van leeus. Hoewel sy redding wonderlik is, gaan Daniël 6 eerder oor Daniël wat naby aan God leef, en dit maak dat hy betekenisvol anders is en leef as sy kollegas.
Naby aan God terwyl hy werk, naby aan God as hy groot uitdagings in die gesig staar (vers 11), naby aan God in sy grootste krisis (vers 22-24). Daniël se nabye en intieme verhouding met God was wat hom onderskei het van al sy ander kollegas en van sy portuurgroep. Dink vir ’n oomblik hieroor: Die koning is in sy paleis en kan nie slaap nie, Daniël spandeer die aand tussen die leeus in vrede. En aan die einde van die hoofstuk: God se naam word geprys, en Hy kry die eer!
Om oor te dink:
“If God’s purpose for your job is that you serve the human community, then the way to serve God best is to do the job as well as it can be done.” Tim Keller