Saterdag 3 September 2022

Jona 1:1-3
“Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af."

Om oor te gesels en dink
Hierdie week het ons saam oor roeping gereflekteer. Ons het Sondag in die erediens die metafoor van 'n skip gebruik. 'n Skip wat net in 'n hawe sit is mooi, maar doen nie waarvoor skepe gemaak word nie. Ons is herinner daaraan dat ons roeping soos 'n skip is en dat ons gestuur is om te gaan. In hierdie teks van Jona 1 lees ons hoe Jona van God af probeer wegvlug, omdat God hom stuur. Nes Jeremia is dit nie 'n 'lekker' roeping nie en word Jona ook gestuur om nie goeie nuus te bring nie. Ons word vandag weereens herinner dat God se roeping nie oor ons gemak gaan nie.

Neem 'n oomblik van stilte
Is jy soos Jona? Probeer jy ook aktief wegvlug van jou roeping? Lees gerus die res van Jona se verhaal en onthou dat selfs nie hy kon wegvlug van sy roeping nie.

Gebed
Here, nes 'n skip is ons geroep om te gaan. Here, stuur my al is ek bang. Stuur my, al klink dit vreemd. Here, stuur my en help my. Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika