Saterdag 30 Oktober

Johannes 9:1-12
“Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”
Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is. Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.
Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?” Party van hulle het gesê: “Dit is hy!” Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.” “Dit is ek!” het hy self gesê. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?” En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe. “Ek weet nie,” was sy antwoord.”
‭‭
Om oor te gesels en dink:
Johannes beskryf met hierdie sesde wonder vier verskillende reaksies van die mense betrokke. Die blindgeborene man se bure was verbaas en skepties; die Fariseërs was ongelowig en bevooroordeeld; sy ouers het geglo maar stilgebly omdat hulle bang was om uit die sinagoge geban te word, teewyl die man wat genees is, in sy geloof gegroei het.
Die man is van sy blindheid genees al het hy Jesus nog nie eers goed geken nie of geweet waar Hy is toe hulle Hom soek nie. Tog het dit sy lewe verander en begin hy Jesus volg uit dankbaarheid.
Soos wat Jesus fisiese blindheid genees, genees Hy ook ons geestelike blindheid, sodat ons Hom kan sien. Ons hoef nie altyd te verklaar om te kan verstaan en sien nie. Die mense het Jesus gemis omdat hulle alles wou verklaar.

  • Sukkel jy om Jesus raak te sien?
  • Wat is jou reaksie op wonders wat om jou gebeur?

Gebed
Here, help my om te sien. Genees my geestelike blindheid dat ek U meer kan raak sien. Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika