Matteus 7:12
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Om oor te gesels en te dink
Die sesde padwyser vir 2024 is: “Om mense met respek te behandel, al doen hulle nie dieselfde terug nie.”
As mens oor respek dink, is ons eerste gedagte dat iemand respek moet verdien voordat hulle gerespekteer word. Jesus stel vir ons ’n nuwe reël in die Bergrede, die goue reël, bekend. Ons moet eerstens aan mense doen wat ons wil hê hulle aan ons moet doen. Ons moet respekvol met mense omgaan.
Die uitdaging is om juis respek vir iemand te wys wat niks terug kan doen om die respek te verdien nie. Ons kan nie net dié respekteer wat ons dink ons gaan help of bevoordeel nie. Nee, as volgelinge van Jesus moet ons juis almal respekteer.
Dit vra dat ons almal menswaardig sal hanteer. Soms is ’n glimlag en groet genoeg, ander kere is dit om iemand wat jou bedien by ’n winkel op die naam te groet.
Die oorsaak van soveel konflik in ons wêreld is omdat iemand voel dat hy of sy nie respekvol hanteer is nie.
Laat ons getuienis wees dat ons mense respekvol hanteer. So kan ons ’n verskil in 2024 maak, daar waar ons elke dag beweeg.
Gebed
Here, help my om mense respek te hanteer, selfs al verdien hulle dit nie. Mag ek nie verskonings uitdink om dit nie te doen nie. Ek wil graag U liefde vir die mense om my wys. Amen.