Romeine 8:26-27
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”
Om oor te gesels of dink:
Paulus fokus nou op die derde sug. Nie alleen sug die skepping of ons nie, maar die Heilige Gees sug ook saam met ons en vir ons. Juis wanneer ons swak is en nie weet wat en hoe om te bid nie. Dit is die belangrikste sug! Die Boodskap vertaal dit treffend: “Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid.”
Hierdie troos maak dit moontlik dat ons kan kans sien vir vandag. Weet dat selfs as jy nie kan of wil bid nie, die Gees vir ons intree en vir ons bid.
Gebed
Abba, Vader, dankie dat U Gees vir my intree en bid, veral ook wanneer ek nie woorde het om te bid nie. Saam met die skepping en ander gelowiges bring ek my versugtinge na U toe. Amen.