Matteus 7:21-23
21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” (Mat 7:21-23)
Om oor te gesels:
Jesus is besig om die Bergrede af te sluit en spreek die mense aan wat godsdienstig geklink het maar geen lewende verhouding met Hom gehad het nie. Om Jesus te ken en uit daardie verhouding te leef is die kern. Vandaar dat Jesus heeltyd ons aanmoedig dat ons woorde en dade ooreenstem. Ons kan nie skynheilig wees en net dinge doen om deur mense raakgesien te word nie.
Wanneer ons sonder liefde vir God en mense optree, is ons besig om die wet te oortree.
Hierdie harde woorde wil vandag vir ons ’n spieël wees om ons aan te moedig om die Vader se wil te doen en Jesus se liefde uit te leef.
Gebed
Hemelse Vader, help my om U wil te doen. Mag ek U meer en meer ken en doen wat U van my vra. Amen.