Lukas 7:18-35
33 Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ 34 Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ 35 Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.
Om oor te gesels en dink:
Die mense het allerande verskonings gehad hoekom hulle nie na Johannes en Jesus wou luister nie. Die onwaarskynlike mense, soos die tollenaars en sondaars wat amper nie as mense beskou is nie, het die evangelie aanvaar. Die “geleerde” mense, soos die Fariseërs, het gesê dat Johannes duiwelbesete is en Jesus nie van God af kan kom omdat Hy meng met tollenaars en sondaars nie. Die mense wat Jesus moes aanvaar, wou nie en het nie.
Lukas 7:35 kan vertaal word met: “Maar God word reg bewys deur diegene wat sy kinders geword het.” Elkeen wat die boodskap van Jesus aanvaar, is ’n kind van God. Hulle het die waarheid aanvaar en dit is duidelik sigbaar in hulle lewens.
Vir ons vandag, kan ons weet dat ons God se kinders is. Ons sal Sy wysheid in ons lewens ervaar. Onthou Jesus se woorde vroeër in 7:28 dat alhoewel Johannes ’n belangrike persoon was, is elkeen van ons as geringstes, groter as hy in die koninkryk. God los ons nie. Hy ag elkeen van ons as Sy kinders as waardevol.
Gebed
Jesus, dankie dat U gekom het om my U kind te maak. Dankie dat U my waardig ag om U kind te wees. Mag ek vandag leef met die wete dat U by my is. Amen.