Johannes 3:16-19
16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.
Om oor te gesels:
- Wat is jy bereid om uit liefde te gee? Watter opoffering is net te groot om te vra?
- Wat sou gebeur indien God gevoel het daar is net sekere opofferings wat te groot is? Opofferings wat Hy nie kan maak nie, omdat Hy trots is, of God is?
- Wat is die verskil tussen ons houding en God se houding as dit kom by liefde? Praat met die Here oor wat Sy wil is vir jou as dit kom by liefde.
Prakties
Maak ‘n klompie harte as versierings vir julle Kersboom, etenstafel of leefarea. Terwyl julle die harte maak vertel vir mekaar van al die maniere waarop God vir julle lief is en julle dit kan beleef. Deel ook sommer met mekaar van al die maniere waarop julle vir mekaar wys julle is lief vir mekaar.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek kom in U teenwoordigheid so bewus van my menslike broosheid en tog oorweldig deur U liefde vir my.
Ek dank U dat daar geen menslike ervaring is waardeur ek kan loop, waar U liefde my nie kan bereik nie.
As ek die hoogste berg klim, is U daar en as ek my in die donkerste vallei van my lewe bevind, is U daar.
Leer my vandag om U meer lief te hê.
Help my om te rus in hierdie liefde wat niks meer vra, as die eenvoudige hart van ‘n kind wat net vertrou nie.
Amen