Titus 3:10-11
10Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, 11omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.
Om oor te gesels of te dink:
- Paulus is nie besig om vir Titus hier te leer hoe om kerkorganisasie en tug sake te hanteer nie. Dit gaan oor veel meer. Hy is besig om die hart van ‘n mens, die interne motiverings en oortuigings te evalueer. Vir Paulus is dit steeds in lyn met sy argument en dan veral van vers 8-9.
- Wat is sinvol? Dat ons genade aan ander gee. Nuttige dinge vir die gemeenskap doen. Goedheid en liefde vir die mensdom aan ander bewys. Wat is sinloos? Om te argumenteer onder mekaar oor dogma, interpretasies en nuanses van die lering. Wat is die sonde wat Paulus hier na verwys? ‘n Mens se onvermoë om die sinvolle te doen en vas te bly staan op die sinlose dinge. ‘n Mens se onvermoë om sy eie standpunt te laat gaan ter wille van die uitleef van hierdie genade. ‘n Mens se onvermoë om dit wat ons skei van God, die oordeel van ander, die hoogmoed van ons eie goedheid en hardkoppigheid om nie die eie wil aan God se Wil te onderwerp nie. Dit is wat oordeel bring.
- Ondersoek jou eie hart. Vra die Here om jou te deursoek. Waar staan jy ten opsigte van hierdie verse? Wanneer is regverdigheid, beginselvas en vaste oortuigings, ‘n oefening in selfvoldaanheid? Is jy bereid om oortuig te word, die Here se groei te beleef, ‘n ander manier van doen te beleef, ‘n afsterf van self deur te gaan? Of is daar oortuigings wat jy net nie sal verander nie?
- Die hele gedeelte in Titus probeer ons herinner en vermaan dat genade vir almal is. Vir die sondige mense van die wêreld, maar ook vir ons wat só goed is. Glo jy dat jy steeds genade benodig, al is jy gelowig? Glo jy, dat jy niks beter of anders is as die mense van die wêreld nie? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek besef vandag dat ek só roem in my eie goedheid, dat ek die punt van U genade misloop. Ek mis die feit dat ek nie kan roem in enige iets nie, nie eers my goedheid nie. Here, ek wil so graag hê dat ander moet weet wat hulle verkeerd doen, hoor dat hulle ver van U af is, dat ek nie genoeg spasie het om vir hulle goed te kan wees of lief te kan hê nie. Here, help my asb. dat ek kan fokus op die wat belangrik is. Help my asb. om U beeld draer te wees, eerder as die een wat ander afskrik omdat ek so oordeel.
Amen.