Spreuke 31:
Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. 22Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol.
Om oor te gesels of te dink:
- Die hele boek van Spreuke handel oor die beskrywing van wysheid. Wysheid is ‘n seldsame verskyning en ‘n belangrike eienskap vir iemand wat die Here dien. Wanneer die skrywer die boek afsluit in Hoofstuk 31 beskryf hy hoe wysheid prakties lyk in iemand se lewe. Hier gebruik hy die vrou om so ‘n persoon met wysheid te beskryf. Ons gaan daagliks stilstaan by verskeie elemente van hierdie persoon met wysheid.
- ‘n Persoon met wysheid, is iemand wat ook hulle eie styl en grasie het. Hulle voorkoms weerspreek iets van wat in hulle binnewêreld leef. Hulle weet wie hulle is in God, en nou in Christus is, en dit word weerspieël in hoe hulle voorkom. Daar is ‘n trots en ‘n selfrespek in die manier waarop hulle, hulleself dra. Hulle voorsien ook dieselfde geleentheid vir hulle familie.
- Hoe weerspieël jou styl dit wat in jou binnewêreld leef? Hoe weerspieël jou voorkoms jou innerlike identiteit, respek en trots? Wanneer jy met jou voorkoms omgaan, is dit om iets van jouself weer te gee? Of is dit om ander te beïndruk, ander te flous of te probeer by ander in te pas?
- Is daar iemand in jou lewe wat die wêreld ingaan met baie styl en grasie? Spreek dit ook van ‘n sterk verstaan van identiteit in Christus? Kan die twee van mekaar losgemaak word? Wat gebeur as daar nie ‘n verband tussen die twee is nie?
Gebed:
Here, dankie dat U vir ons die geleentheid skep om te kan vra vir wysheid. Here, ek vra dat U my sal vul met wysheid. Here, dankie vir elke voorbeeld van wysheid in my lewe.
Dankie vir elkeen wat styl en grasie die wêreld ontmoet. Dankie vir elkeen wat weet wie hulle is in U. Here, help my om met trots en respek uit my identiteit in U in die wêreld te leef.
Amen.