Vrydag 22 Oktober

Matteus 25:14-30
14“Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. 15Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg. 16“Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. 17Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. 18Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek. 19“Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. 20Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ 21Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’ 22“Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’ 23Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker. 24“Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê. 25Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’ 26Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle. 27Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. 28Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. 29Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het. 30Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.”

Om oor te gesels of te dink:

  • Ons gaan hierdie week na dink oor hoe Jesus die voorbeeld is van vrygewigheid.
  • Ons is weer terug na Matteus vandag. In vandag se verhaal wys Jesus die teenstrydigheid van vrygewigheid. Ons dink gewoonlik ons kan gee wanneer ons het. Jesus leer dat die vrygewigheid eintlik anders werk. Hoe meer ons met toe hande lewe, hoe meer gaan ons dit verloor en hoe meer ons met oop hande lewe hoe meer gaan ons weer ontvang.
  • AS jy jouself in vandag se Bybelverhaal moet plaas, waar sou jy wees? Met watter karakter kan jy die meeste vereenselwig? Waarom? Wat dink jy sou Jesus vandag vir jou wou sê? Deel jou hart met die Here.
  • Voel dit vir jou onregverdig? Is daar iets wat nie vir jou reg voel in die manier hoe vrygewigheid in God se koninkryk werk nie? Deel jou hart met die Here.

Gebed:
Leef jy met ‘n oop hand of toe hand? Deel met die Here hoe jy graag wil leef. Vra dat God jou sal help om te kom waar jy wil wees as dit kom by vrygewigheid.
Is daar gevoelens van onregverdigheid, bitterheid, jaloesie, onvergenoegdheid, selfsugtigheid wat jy nog moet bely en aan die Here oor gee? Vra dat die Here jou hart moet verander na een van iemand wat Hom reflekteer.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika