Vrydag 28 Januarie

Lukas 8:8, 15
8Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.” Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
15Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”

Om oor te gesels en dink:
Die gelykenis vertel van ’n vierde plek waar die saad val. Die saad wat in die goeie grond val lewer ’n honderdvoudige oes op. Dit is die ideaal waarmee Jesus sy volgelinge aanmoedig. Dit is om die Woord van die Here te hoor en diep daardeur geraak te word en dit dan prakties toe te pas in jou lewe.
’n Goeie en opregte hart is nodig om die Woord te kan aanvaar, daarom moet ons moeite doen deur tyd in die Woord te spandeer.
Lukas voeg in sy weergawe van die gelykenis die woorde “en deur volharding vrug dra” wat beteken dat dit nie altyd maklik is en baie van ons vra. Groei gebeur nie vanselfsprekend nie. Maar wanneer ons in gehoorsaamheid fokus op die Woord en doen wat dit sê, leef ons ’n vrugbare lewe tot voordeel van ander. Die woord wat vir volharding gebruik word, lees ons ook in Lukas 18:1, waar Jesus ’n gelykenis vertel van die vrou wat by die regter kom vra het om te verduidelik dat ons moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. ’n Vrugbare lewe beteken om toe te laat dat die Here met ons werk en dat ons daarin sal volhard in gebed.

Gebed
Here, ek wil U met ’n goeie en opregte hart dien en stel myself oop dat U Woord in my lewe vrugbaar sal wees. Mag ek volhard in gebed en in gehoorsaamheid doen wat U van my vra. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika