Nehemia 2:7-8
“en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. Ek het ook ‘n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.” My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.”
Om oor te gesels en dink
Nehemia neem vrymoedigheid om te vra wat hy nodig het. Hy vra baie, maar die koning staan dit toe. Hy het God vertrou en God het sy goeie hand oor hom gehou en hom gehelp.
Nehemia word die eerste antwoord op sy eie gebed. Hy weet hy moet vra en nie net wag dat alles gebeur nie. Hy dink nie aan homself nie, maar is gedring deur die pyn wat hy ervaar oor die situasie war op sy hart gedruk is.
Ons moet vrymoedigheid neem om ook te vra. Die Here voorsien waar ons nie eers dink dat dit moontlik is nie. Bring dit wat die Here op jou hart druk na Hom toe en vra dat Hy sy goeie hand oor dit sal hou.
Gebed
Here, dankie dat ek kan vra. Dankie dat ek dit wat U op my hart druk na U toe kan bring. Ek vertrou U daarmee. Amen.