Jona 4:11
11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
VRAE:
- Jona se verhaal eindig waar God vir Jona uitwys wie Hy weereens is. God is die een wat mens en dier geskep het. Hy is die een wat vir hulle buitengewoon lief het, selfs wanneer hulle nie perfek is nie. God is die een wat altyd genade wil gee sodat die verhouding met hom weer herstel kan word. God se hart is nie dat enige een verlore moet gaan of van Hom vervreem moet wees nie.
- Indien jy God se voorbeeld sou volg, waar in jou lewe, is daar verhoudings wat God se liefde, barmhartigheid en genade benodig? Waar sou God jou uitnooi om mense te vergewe, hulle nie meer te oordeel nie, meer verdraagsaam te wees en met liefde hulle te hanteer?
- ‘n Natuurlike uitvloeisel van alles wat ons ontvang is dankbaarheid. Op watter maniere kan jy uit dankbaarheid, met ander deel wat jy self ontvang het? Hoe kan jy dankbaarheid beoefen, op so ‘n manier dat ander mense ook kan deelneem daaraan? Hoe spoor jou dankbaarheid ander aan om God se liefde, genade en barmhartigheid te kan beleef?
- Hoe kan dankbaarheid jou help om die Goeie Nuus van die evangelie met ander te deel? Sou ander mense God wil dien en eer, omdat hulle sien hoe dankbaar jy is vir die liefde en genade wat jy by God beleef? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here, dankie vir U eindelose liefde en barmhartigheid. Dankie dat U vir ons so oorvloedig seën met versorging, beskerming en genade. Dankie dat U ons in staat stel om ook ander te kan seën omdat ons weet hoeveel ons het om voor dankbaar te kan wees. Here, mag ons op die probleme van die wêreld, die verhoudings in my lewe en my eie tekortkominge met liefde en genade reageer.
Amen