Vrydag 3 Desember

Lukas 1:39-45
Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?
Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”

Om oor te gesels en dink:
Maria gaan na haar bloedverwante familielid, Elisabet toe. Sy het sekerlik gewonder of alles waar kan wees. Ons sien dat die Heilige Gees vir Elisabet gesê het dat Maria se seun die Messias sou wees, want toe Elisabet vir Maria sien, spreek sy haar aan as “moeder van my Here”. Elisabet se woorde sou Maria versterk en sy was saam met haar bly.
Al sou Elisabet binnekort self ’n seun, Johannes, ontvang wat belangriker as Maria se seun sou wees, is sy nie jaloers op Maria nie. In plaas van jaloesie beleef sy vreugde. Sy fokus op die ontmoeting en dat Maria na haar toe gekom het.

  • Was jy al jaloers op iemand wat meer seëninge as jy ontvang?
  • Wees eerder bly saam met die persoon en weet dat God sy kinders gebruik waarvoor Hy hulle toerus. Ons almal is instrumente in God se hand. Niemand is belangriker nie.

Gebed
Here, dankie vir vandag. Dankie vir U goedheid. Ons wil soos Elisabet dankie sê dat U na ons toe kom. In hierdie Adventstyd wag ons op U en sien uit na U koms. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika