Handelinge 20:22-24
“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”
Om oor te gesels en dink
Paulus is in hierdie teks aan die woord. Hy is bewus dat hy moontlik vervolg kan word, maar is daarvan oortuig dat die Heilige Gees hom dring om te gaan. En groter as die vrees is sy verstaan van sy lewenstaak: om die evangelie van God se genade te verkondig. Ons dink gereeld aan evangelisasie as om mense te oortuig dat ons reg is dat Jesus die ware en enigste Here is. In hierdie skrywe van Paulus hoor ons dat die evangelie, met ander woorde die verkondiging van die goeie nuus, ook te make het met die verkondiging van genade - God se genade!
Hoe verkondig jy hierdie goeie nuus - die genade van die Here? In jou woorde? In jou gebede? In jou optrede teenoor mense? Mag jy vandag deur die Heilige Gees gedring word om die genade van die Here te verkondig aan alle mense wat jou pad kruis.
Gebed
Probeer om vandag met 'n oop hand te bid: Here, hier is ek. Gebruik my om u goeie nuus van genade te verkondig en leef. Amen