Vrydag 31 Desember

Johannes 1:1-18
1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. 6Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore. 14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” 16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Om oor te gesels of te dink:

  • Neem vandag om terug te kyk op die jaar wat verby is. Hoe sou jy die jaar beskryf? Waar was God? Deel jou hart eerlik met die Here.
  • Ondersoek jou hart vandag. Wat voel jy vandag? Wat is jou drome en vrese? Deel jou hart eerlik met die Here.
  • Kyk vorentoe na die jaar wat voorlê. Ons weet God skep nuut uit niks uit. Waarvoor sou jy wou vra in die jaar wat voorlê? Wat is jou hoop vir die jaar wat voorlê? Deel jou hart eerlik met die Here.
  • Wat leer jy uit vandag se teks gedeelte wat vir jou hoop kan gee in die jaar wat voorlê?

Gebed:
Here, vandag bely ek dat U God is. Ek bely dat U alles geskep het. Ek bely dat U groter is as die hele skepping en ook elke uitdaging in my lewe.
Here, ek bely dat U die lig in hierdie wêreld is. Ek bely dat niks hierdie lig kan uitdoof nie. Ek bely dat die duisternis geen plek het in my lewe nie. Ek bely dat ek steeds duisternis het wat ek daagliks aan U voete moet neerlê.
Here, ek bely dat daar mense is wat in opstand is teen U. Ek bely dat dit my seermaak en my kwaad maak. Here, ek bid vir elkeen van hulle, dat hulle U sal leer ken en U sal erken as lig vir hulle lewens.
Here, ek bely dat U mens geword het om my sondes te kom vergeef. Ek bely dat U gesterf het en weer opgestaan het. Ek bely dat U triomfeer.
Here, ek bely dat U steeds oor alles Heers. Ek bely dat U steeds nuut skep. Ek bely dat ek ook hierdie nuwe jaar in U hande kan plaas.
Here, ek bely dat ek so dankbaar is.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika