Jeremia 1:4-10 Fokusteks vers 8
_ 8Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red._
Om oor te gesels of te dink:
- Wanneer ons kinders bang is, is die beste versekering wat ons kan bied dat ons by hulle is. Ons sien hierdie voorbeeld by God. Wanneer ons verskoning bied en ons tekortkominge bely, verseker God ons dat ons nie hoef te vrees nie, want ons is nie alleen nie. Hy is elke oomblik by ons. Hy gee nie vir ons ‘n taak om in ons eie krag te doen nie. Jesus versterk hierdie gedagte toe hy by sy Hemelvaart gesê het Hy is by ons tot die einde van tyd.
- Is daar tye wat jy alleen voel? Is daar tye wat jy vergeet dat God met jou is? Is daar oomblikke wat jy wonder of God tot jou redding sal verskyn in die omstandighede wat jy jouself bevind? Is dit omdat jy glo God is nie in staat nie? Of omdat jy jouself isoleer van God sodat jy nie seer gaan kry en nie op Hom hoef te vertrou nie? Ondersoek jou hart en deel dit met die Here.
- Hoe sou jou lewe lyk as jy oortuig is God is altyd met jou en Hy sal jou altyd uit alle situasies red. As jy nooit daarin getwyfel het nie? Hoe sou dit wees as jy vas geglo het God is altyd teenwoordig om jou gebede te hoor en te antwoord, sonder om te wonder of Hy doen? Sou jou geloofslewe enigsins anders gelyk het? Wat keer jou om so te glo?
Gebed:
Here ek dank U dat my hulp van U af kom. U is die Skepper van hemel en aarde, en U is die ontwerper van my lewe en my familie. Help asseblief my familie om U te eer en U te verheerlik in alles wat ons doen. Help ons om lewens te lei wat elke dag vir U aangenaam is.
Amen.